Alain Bashung | |
---|---|
Alain Bashung in 2007 | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 1 Desember 1947 Parys, Frankryk |
Sterf | 14 Maart 2009 (op 61) Parys |
Genres | Chanson française, rock français, New Wave |
Beroep(e) | Sanger en komediant |
Jare aktief | 1966−2009 |
Etikette | Barclay (Universal Music) |
Webwerf | Universal Music France: Alain Bashung |
Alain Bashung, gebore as Alain Claude Baschung op 1 Desember 1947 in Parys, Frankryk en op 14 Maart 2009 aldaar aan longkanker oorlede, was 'n Franse sanger, liedjieskrywer en komediant van Bretons-Algeriese afkoms. Sy moeder was 'n fabriekarbeider in 'n Renault-rubberaanleg in die Paryse voorstede, sy vader het hy nooit leer ken nie. Hy het saam met die gesin van sy stiefvader in Wingersheim naby Straatsburg in Elsas grootgeword.
Nadat hy aan die begin van sy musikale loopbaan nog baie moeilikhede ondervind het, het hy uiteindelik in die vroeë 1980's erkenning gekry as een van die voorste persoonlikhede in die Franse musiekbedryf wat sy stempel op genres soos chanson française en rock français afgedruk en groot invloed uitgeoefen het op 'n groot aantal musici van die sogenaamde nouvelle scène française.
Saam met Mathieu Chadid is hy die Franse sanger wat die meeste Victoires de la Musique-pryse ingepalm het. Altesaam dertien keer is hierdie Franse musiekprys aan hom toegeken - waarvan tien keer postuum. Alain Bashung was sedert 2001 met die aktrise Chloé Mons getroud. Uit die huwelik is 'n dogter en 'n seun gebore, Poppée en Arthur.